Desember 2018
Heil die Leser
Ons beween en bekla die broosheid van ons bestaan elke keer wanneer ons voor die spieël of voor ’n oop graf staan. Die erns waarmee ons ons eie realiteit bejeën—ons is BAIE werklik vir onsself—grens aan selfmisleiding, indien nie afgodery nie. Te maklik en te gou vergeet ons dat ’n paar, of dalk meer as ’n paar jaar gelede het ons nie eens bestaan en het niemand van ons geweet nie. Die groter werklikhied agter ons bestaan—wat nie geskape hoef te geword het nie—is die enigste werklikheid want dit is ewig en verantwoordelik vir ons bestaan asook die bestaan van die heelal. Dit is hierdie soewereine mag wat ons ouers na mekaar toe gebring het en hulle ouers voor hulle en die sin voor hulle en so gaan dit aan tot by ons heel eerste ouers.
Die aarde en sy molekules het saam met die bloed in ons are en die asem in ons longe eens op ’n tyd glad nie bestaan nie. Wetenskaplikes bevestig dit en voorspel ook ’n defnitiewe einde daarvan. ’n Vraag waaroor die mens sy verstand eindeloos mee vermoei het is: Hoe het dit alles tot stand gekom? ’n Vraag wat ooglopend interessante antwoorde inhou ofskoon daar nie regtig voeldoende antwoorde verskaf kan word nie omdat God verkies om dit ’n geheim te hou. Tensy iemand van plan is om ook ’n aarde te maak en wil uitvind hoe dit die eerste keer gedoen is, is dit nie relevant nie. Die punt is dat ons vervaardig is en God nie—daarom is die werklikheid agter Hom onbegrypbaar vir ons; Hy is ewig, ons nie.
Die meer intelligente vraag is: Hoekom is ons hier en hoekom het Hy die aarde gemaak? Waarom sou Hy hierdie presiese konteks skep vir ons kort bestaan? Voordat ons antwoorde op hierdie vraag kry moet ons eers die kwessies van mekaar skei. Ons eie realiteit is vir ons werklik, maar God se realiteit (waarsonder ons nie sou kon bestaan) sukkel ons om te begryp. Hy is die een wat ongeskape is, wat van niemand afhanklik is en niemand hoef te aanbid nie. Hy bestaan in ’n realitiet wat voor ons eie was en sal bly bestaan nadat ons betaan sy eie disintegrasie aanskou het.
Is dit omdat ons as geharde materialiste eers moet sien voordat voordat ons weet? Ons aanvaar die werklikheid van ’n kiem wat ons nie sien nie maar sukkel om God as ’n werklikheid te aanvaar. Hoe onwetenskaplik! Al die uitvindings die afgelope 200 jaar was gedoen op die terrein waar niemand kan sien nie. So kortwiek ons naelstring met die verganklikheid die insig waarna ons siele smag, want dit is die siel—God se asem—wat aan Adam anemasie gegee het en nie die minerale in sy klei nie. Ons hoef dit nie te glo nie (dis godsdiens), ons kan dit weet (intelligensie). Nadat die kwessies uitgesorteer is, kan ons geloof op feite rus. Ons kan weet én glo wat die sukkel uit glo vat.
Sedert Adam en Eva se eerste opdrag wat hulle direk by God gekry het, het niks nog verander nie. God soek medewerkers om saam met Hom die skade wat boosheid op alle vlakke aangerig het, te verbind en te versorg sodat orde in ons lewens en ons omgewing kan terug keer. ’n Eenvoudige protokol want Hy doen die moeilike deel, ons die maklike deel.
God se dagboek (Die Bybel) bied insig in sy motiewe en strategie—en beantwoord die vraag oor die doel van ons bestaan. Sy liefde, sy omgee en sy besorgdheid vir hierdie projek (op die aarde) is net so mateloos soos sy eie oneindigheid. Ofskoon 25 Des nie die regte datum is vir sy seun se geboorte nie, is dit wel die één dag in die hele jaar waarop alle sisteme hulle eie produktiwiteit onderbreek en saamloop agter ’n ster wat presies weet waar die Verlosser en Saligmaker gebore is—God se GPS en sy eie vinger wat die planeet tot voor die deur van die stal in Betlehem gestuur het. Kom ons laat ons eie werklikheid op “dim” gaan want elkle keer wat ons dit doen, gaan Gad se werklikheid op “bright”. Geseënde Kersfees aan alle Val du Charron lesers en ’n vreugdevolle Nuwe Jaar. Groete Amanda Kreitzer