September 2018
Heil die Leser
Tyd stort sy aandeel in ons bloedstroom in klein dosisse, sekonde vir sekonde, sodat die onmiddelikke effek daarvan op die groter geheel van ons lewe vir ons verlore is. Eers na ’n jaar of tien of twintig dring dit tot ons deur dat die impak daarvan versigtig weggesteek was in die gefragmenteerde herhaling van sekondes. Te geabsorbeer in die sorge van die uur of die dag besef ons te laat dat ofskoon tyd geen einde het, dit die einde van óns kan beteken.
Alles dra die stempel van tyd daarop, want aan alles kom daar ’n einde. Behalwe aan ons siele. Dit is nie onderhewig aan die effek van tyd nie—dit kan nie oud word of ophou bestaan nie. Tyd is ’n dimensie van die stoflike en die liggaam wat ook deel is van hierdie dimensie leer sy lesse deur middel van tyd wat die draer van hierdie lesse word. Die eeu en dekade waarin jy gebore is, is geen toeval nie. Die lesse wat jou siel moes leer is haarfyn in pasmaak sinchronisasie met die van almal wat saam met jou grootword—binne die konteks van die eeu en sy tegnologie, tendense en giere—tot fyn chemie en wetenskap uitgewerk!
Ons siel se groei bewerkstellig sy eie heelword en eenword met God. Dit vat tyd. Wanneer ons insigloos bly, mors ons tyd want dan moet tyd sy siklusse tot vervelens herhaal om dieselfde les weer tot reg voor ons te bring. Die liggaam se sameswering met tyd as instrument vir ons lesse het begin toe Adam vir ’n oomblik se bevrediging die genot van die tydelike bo ewige genoegdoening gekies het. Van toe af was die liggaam ’n les in moeite en swaarkry. Dit het tyd gekies en van toe af sou dit onderhewig daaraan wees. Die wonde van tyd sou voelbaar op die liggaam refelkteer. Ons het die vrugte van goed én kwaad saam met ons eerste ouers geëet. Daarom leer ons ons lesse uit vreugde en pyn.
God het die siel vir Homself gemaak. Daarom kan net Hy die behoefes daarin akuraat bepaal. Alles wat ons doen om self die siel se honger te stil lei gewoonlik net tot grooter skaarste. Daar is ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hierdie vrede gaan ook alle tyd te bowe. Dit is dus ’n onsigbare werklikheid wat onafhanklik van tyd of vrees funksioneer én die enigste veilige plek vir die siel. Die siel wat hierdie vrede—wat ’n waarheid en Persoon is—vind, sal ook sy verhouding met tyd genees.
Die versplintering van tyd in sekondes oor al die eeue bevat net één lewensles—dat ons sal ophou om te glo dat ons siel dieselfde waarde heg aan die stoflike as wat die liggaam doen. Die afleer van Adam se fout is tydsaam... en tydrowend!
Wanneer God terugkeer om alles nuut te maak sal tyd ophou, want leer sal onnodig wees omdat ons meteens sal weet—verhouding is alles! Groete Amanda Kreitzer