Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Augustus 2018

Heil die Leser

Ons verhouding met tyd is ’n lastige naelstring wat ons lewens vol haas voer want daar is nooit genoeg tyd in enige dag of nag is om alles op ons lysies gedoen te kry nie. Hierdie tydwond versprei sy infeksie in die bloedstroom van sekondes en sy chaos is veral voelbaar onder inwoners van eerstewêreld lande. Die rippel effek van hierdie verset teen “te min tyd” kring nouer en nouer, nader tot teenaan aan die slagaar van ons sagte weefsel—ons hart. En ’n lewenstyl wat ons moes vrymaak, het ons siek gemaak.

Tyd is veronderstel om ons liggaam moeg te maak en af te takel, nie ons ons gees nie! Die digtheid van ons liggaam laat nie toe dat tyd daardeur beweeg; hierdie weerstand lei tot friksie wat skaaf en skaaf totdat die afwaartse wentel van tyd teen molekules sy laaste sirkel voltooi het en die liggaam sy reg opgee en aan die gees sy vryheid teruggee.

Tyd is kos vir ons siele. Tyd en ewigheid voed ons siel. Beide tyd en ons gees is verhewe bo die natuurwette en funksioneer onsigbaar, meer werklik as die sintuiglike werklikheid. Ons siel se verbintenis met die ewigheid maak tyd noodsaaklik vir die oorlewing daarvan omdat tyd ons siel al vir baie langer dra as wat ons liggaam dit dra. Gereelde kontak met ewigheidsdinge gee perspektief aan ons siel en ’n vastrapplek vir ons hart sodat ons makliker die onsigbare met die sigbare integreer. God bestaan ook in tydloosheid en ons kom van Hom af. Natuurlik sal die siel sukkel as daar nie genoeg geleentheid geskep word waar sy aardse werklikheid met hierdie oorspronklike voedingsaar oorvleuel nie.

Hoe meer ons kontak maak met die inhoud van ons bestaan—en die vorm daarvan minder belangrik maak—hoe stadiger en genadiger sal ons tyd se aanslag op ons bestaan ervaar. Omdat daar minder is om weerstand teen te bied. Ons liggaam is maar net die kontakpunt met die materiële omdat die lesse wat ons moet leer om ons gees sterk en weerbaar te maak, deur die liggaam na ons toe kom. Siekte, pyn en mishandeling tref die persoon eerste dáár. Die natuurlike wêreld is vol skaartste, rampe en tekorte. In die bonatuurlike is dit andersom. Alles wat jy dáár weggee kry jy meer van terug.

Tyd is eintlik maar ’n persepsie of ’n ingesteldheid. As jy meer wil hê moet jy jou houding verander of soms moet jy dit saai (weggee) vir ’n beter oes. Meeste van ons teleustelling kom hiervan: dat ons te sterk identifiseer met die liggaam en die materiële dinge wat sy dinamika in stand hou in plaas daarvan om eerder so sterk met ons gees te identifiseer. Die hulpeloosheid waarmee ’n baba gebore word—gewoonlik huilend—is alreeds ’n vingerwysing dat hierdie reis bedoel was om die skille van ons oë te laat afval. En ons vergeet dat tyd geen respekteerder is van geld is, of die dood nie. Die magtige en die welgestelde kan nie daarmee onderhandel vir meer nie. Die liggaam sal swig onder die druk van tyd en ons sal weet: Ons was hier sodat ons gemeensaamheid kon leer. Dan sal ons inhoud in ’n nuwe vorm gegiet word—waardeur tyd kan beweeg—en gemeensaamheid sal volmaak wees. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.