Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Julie 2018

Heil die Leser

Hoe vind jy antwoorde wanneer stilte opgaar voor ’n hart wat stom is? Of hoe sink jy ’n skag in hierdie verborgenheid op soek die skat én die antwoord? Of hoe span jy ’n boog oor die stomgeslaande afgrond voor jou sonder om self balans te verloor en daarin te tuimel? Jou hart kan nie hierdie selfgesprek voer wanneer die tong van gedagtes uitverkoop is aan die goedkoop suggesties van die omgewing of die vlees nie—die vlees wat so maklik swig voor ongeloof en vrees of huiwer voor die waarheid.

Hoe veilig is dit vir die eie-ek en sy agenda om jou hart te vertrou met die invloed van die waarheid daarop? Waarheid wat konflik en leiding of misleiding openbaar en bepaal of jy besig is om jou bestaansbestemming of die noodlot waar te leef.

Die sinergie van invloede groei soos katerakke oor die ore van ons gees sodat ons nie die vals note wat ons siel speel, hoor nie. Totdat en tensy ons die ashope van onvervulde verwagtinge en onverbinde wonde saniteer, sal ons eie klank van noot af wees. En omdat ons nie bewus is wanneer en waar die hart sy vakkeuses maak wat hom sy lesse laat leer en uiteindelik ons groei stimuleer, moet ons heeltyd spontaan versigtig maar ook regverdige en barmhartige eksaminatore raak van hierdie komplekse interaksie tussen dit wat op die slagveld van die hart en propaganda van die ego gebeur. Insig sal tot wysheid lei en wysheid tot vrede. Maar nie totdat jy gemaklik raak met die stukkie wat die meetsnoer vir jou afgemeet het en doof vir die tiranie van die self. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.