Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

April 2017

Heil die Leser

Die sagteware van elke menslike emosie het 'n kode. Daar is 'n kode vir pyn maar daar is ook 'n kode vir vreugde. Die oomblik wat jou senuwee die kode vir enige emosie aanteken, registreer dit outomaties die kode vir die direk teenoorgestelde impuls. As God die ontwerper van menslike emosie is, en as die moontlikheid bestaan dat invloede buite Hom ons emosies kan beïnvloed sodat dit tot vernietiging kan lei, dan is Hy ook die dokter (sagteware tegnikus) daarvan.

Wanneer oogkontak met ons eie hart of met die kollektiewe werklikheid buite ons onbevredigend is, dan is dit ons hart wat medisyne moet kry. Die nou wisselwerking tussen gedagte, neutrone en emosies wat as gevoelens manifesteer is 'n sagte spel vol harde werklikhede—dit laat ons bloos, sweet, hartkloppings kry, wakker lê, aan hoë bloeddruk ly, om nie te praat van al die gesiglose vrese wat onsigbaar ons eie gedagtes teen ons gebruik en ons senuweestelsel intimideer totdat ons hierdie inwerking en sy dinamika asof 'n gegewe aanvaar. Ons oefen ons gedagtes met hierdie vrees-gewigte todat ons vrees-spiere bult van gesondheid...

Politiek is niks anders as die weerspieëling van die kollektiewe gedragspatrone van 'n gemeenskap nie. Daarom moet ons nie verandering buite onsself soek nie, maar binne ons. Ons is behep met manifistasie en magic. Magic bedoelende God moet een van sy tricks gebruik en vir ons reën gee ens ens. Ons maak van God ons inkopie stuurjong—ons gee Hom ons lysie en Hy moet die magic doen. Die wonderwerk lê egter nie in wat Hy vir ons kan doen nie maar wat bereid is om vir Hom te doen.

Ons eie neurose—ons onvermoë om die lastiges, moeilikes, almal wat anders as ons is of dink, maar veral ons groter liefde vir die stoflike as vir die gees en ons verwagting dat die liggaam ons gelukkig moet maak (wat elke keer lei tot pyn) is waar God se wonderwerk gebeur. Want dit is hier waar vrees die oog van die fontein vergiftig en neurone afgevuur word wat ons geestelike bloedstroom ongeskik maak vir geloof en liefde (maw lae geestelike immuniteit) en ons sonder hoop opeindig.

Niks buite ons gaan sin maak totdat en tensy dit híér sin maak—hier waar die intriges van een lewe aanhaak by die van 'n ander sodat die chemie van gemeenskaplike gevoelens sy eie kern split wat of 'n positiewe of 'n negatiewe neerslag op die 7 uur nuus deponeer. Oor tyd bou al hierdie neerlae op om ons by 'n gedeelde ervaring te bring—vir elke dag maar ook vir die lang termyn. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.