Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Desember 2012

Heil die Leser

Die gewigloosheid wat jy ervaar wanneer jy jou in water bevind, is dieselfde gewiglooshied wat jou gees ervaar solank as wat jy jouself in die baarmoeder van God se liefde bevind—’n gewigloosheid wat jou eie droogte opvul en toemaak. En laat oorloop hoe meer jy dit regkry om daar te lewe. Sonder hierdie naelstring van genade wat ons voed met dankbaarheid, waardering, insig en wysheid, is ons almal maar min of meer ewe lelik as die spieëls aan die binnekant gehang word. Ek vind ek moet gereeld terugklim in God se baarmoeder om emosioneel sterk te groei voordat ek weer geestelik gesond gebore kan word vir elke nuwe uitdaging. Dis ’n matige klimaat waarbinne die mikroklimaat van omstandighede, mense en gebeure nuwe perspektief en prioriteit kry; ’n perspektief wat die aanslag op my persoonlikhied versag; ’n gevoelvolle omgewing waar die magnetisme van hoop en geloof jou, die oomblik wat jy nader aan hulle beweeg, gryp en intrek en in die diep kant van jou persoonlikheid gooi. Elke keer wat ons nie is wie of wat ons veronderstel is om te wees óf veronderstel is om te voel nie, sink ons, en mis ons dit.

Dis binne die bestemming van ons eie persoonlikheid waar ons die standhoudende aar van vreugde en vrede raakboor. Nie iewers buite ons nie. Liefde en goeie gevoelens is die gidse wat ons hart daarop afstuur. Veroordeling, foutvind en agterdog saboteer jou tuiskoms. Geskape na die beeld van God is liefde die sleutel tot ewigdurende gemeenskap met hemelse heerlikhede wat ons aardse palet smaakvol en sinvol tooi; verskuilde sappighede in geure wat harde mense en omstandighede marineer en verteerbaar maak. Jy kan net aan jouself behoort as jy aan God behoort; as Hy jou bestemming insluk en fynmaal totdat jy daarvoor kwalifiseer. Daarom kan jy net jou eie raamwerk permanent oprig as jy dit staanmaak op sy fondasie. As jy dit nie doen nie, sal wát jy ookal bou, verdwyn saam met die steiers waarop die bouers staan.

Uit die oormaat van negatiewe propaganda op TV, in koerante en tydskrifte erf ons net die vlak opdrifstels en opstootsels van ’n onrustige mensdom wat oor en oor dieselfde onbeantwoorde selfgeskepte krisisse en slegte tydings by ons oë en ore afdruk om ons liefhê en goedvoel te versmoor. Onaangejaagde, onverstoorbare rustigheid kroon sy slagoffers net met hierdie soet nektar waar daar ’n sagte landingstrook in so ’n persoonlikheid reggemaak is. He who comes to the gate to do good, knocks at the door. He who comes to love, finds the gate open.

Lekker rus. Met baie liefde en seën. Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.