Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Oktober 2012

Heil die Leser

Die winter het sy greep verslap sodat voëltjies al vroeër hulle dankbaarheid aanhef in die vorm van ’n tuisgemaakte toonsetting van die Halleluja—’n komposisie wat die daeraad hartlik inlui, en die dag opgewonde breek sodat elkeen van ons sy eie stukkie tussen die skerwe kan optel. Voëltjies styg altyd aan die regte kant van die nes op—hóé anders ná so ’n juigende aanhef vol bewondering en waardering vir die lewe?

Hulle gebruik spraak en klank op instink in diens van ’n hoër bevel. Hulle sug nie, hulle kla nie, hulle skel nie—hulle laat eenvoudig toe dat die nag saggies wegglip onder die las van hulle gasvryheid, tot oorlopens toe gevul met ondempbare geesdrif wat lig, warmte en werskaf nadertrek en eindeloos dupliseer totdat moeë lyfies die aand naderwens—sodat die bedrywige dag sy aanspraak tot halt kan roep en besige gedagtes kans kan kry om weg te sypel in die verlorenheid van die nag wat alles insluk en ’n nuwe fondasie gooi vir die volgende brokkie ewigheid verpak in 24 uur.

Ons aftakeling is ’n selfopgelegde proses wat berus op verdagmaking van die lewe self—’n rustelose foutvind gemarineer in te min liefde en te min dankbaarheid. ’n Toestand wat harte vervreem van hulle eie bestemming én van God. Geldskuld/nood dryf ons dae en liggame, maar liefdeskuld/nood dryf ons gees wat verbouereerd swerf op soek na ’n aangename landingstrook in ons gevoelens waar dit veilig kan arriveer by goedvoel en goedwees. Emosionele swerwers van die 21ste eeu, kom ons harte nooit tuis nie; omdat rustige, sorgsame en minsame gedagtes nie toegelaat word om lank genoeg anker te gooi sodat dit goeie gevoelens skep wat vasgroei in ons dag en uiteindelik in ons persoonlikheid nie.

Té haastig om te besin, té haastig om kontak te maak, té haastig om te leer om met ons harte te luister, is ons soos ’n lang ry swart miertjies wat heeltyd aan die beweeg bly—altyd vorentoe. Soos die miertjies raak ons heeltyd skrams aan almal wat van vooraf verby kom—haastig op pad na die krakie in die muur waar die ewigheid in ons harte vervang word met die ewigheid van die reis.

Net ’n erkentlike bewussyn van die belewenis van ons eie harte kan die las van die reis afhaal van ons skouers en uithaal onder ons voete en afgooi van ons emosies. Hoe jonk of hoe oud, hoe vars en geïnspireerd, of hoe afgetakel en bedruk jou hart tydens enige oomblik van jou dag voel, hang af van jou hóé jy jou lewensreis beplan en hóé jy koershou. Jou siel kan net skade ly en jou hart net verlore gaan as jou dag en sy oomblikke apart van spontane goeie gevoelens geleef het—’n bruisende lewensbron onverdiend en onuitputlik vir almal wat geleer het om naby dit te lewe. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.