Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

September 2012

Heil die Leser

Nou die aand is ’n wintersdag huis toe gestuur met een van die mooiste afwerkings denkbaar—goue pienke wat losgewikkel het op die kunstenaar se palet het in sagte blosse en blabse die wolkemassa wat oor die Hawekwas luier, bedruip. Suiwersoet kon dit teen my oë afgly tot in my siel waar dit die diep honger in die uitspansel van my hart gestil het. ’n Oomblik wat my dag aan my hart toevertrou het, en ’n gewaarwording wat my hart vir altyd aan die oomblik vasgemaak het—mý hart en mý oomblik. ’n Belewenis binne die baarmoeder van alle lewe wat my gevoelens bewustelik werklik en toeganklik vir myself gemaak het. ’n Belangrike gebeurtenis. Want om ver van jou hart af te lewe is om lewendig dood te wees. Omdat alles waarvoor ons toestemming gee om ons hart van die instruksies van sy eie bloudruk te vervreem, ons in hierdie onmenslike toestand dompel. Baie se harte spartel blou in die gesig omdat daar te min geestelike suurstof vir hulle emosionele longe is. So ’n onfiks hart raak gou moeg en uitasem. Dit sak uit en struikel oor die geringste hindernis.

Maar daar is niks wat ’n hart se spoed breek soos woorde nie. Die Bybel maan ons dat ’n hart versadig word uit die oorvloed van die vrug van die mond. ’n Liefdelose hart is dus ’n hart met ’n gebrek aan instruksies via die mond om liefde te vermenigvuldig op die bloudruk van sy oorspronklike DNA. Kwaadpraat en negatief praat breek jou spoed én die samelewing se spoed. Jou eie hart se spysvertering verstop en iemand se ore is misbruik. Met ons tonge hou ons ’n gevangenisstelsel in stand met ’n infrastruktuur ver buite die omvang van korrektiewe dienste. Ons sluit graag toe met uitsprake en gooi sleutels weg deur ontoegeeflikheid. Ons verkla mekaar by mekaar en ook by God. So maak ons Hom medepligtig aan hierdie stelsel van kritiek, veroordeling, skuldigbevinding en boete-oplegging – wat van sulke persone tronkbewaarders maak. Want wat toegesluit is, moet opgepas word.

Ons kan nie saans wag om die nuus op TV te kyk nie waar ons meer as genoeg rede kry om oor die misdaad in die land te kla, terwyl die grootste plundering op mekaar deur die elite van die samelewing gepleeg word. ’n Klomp los tonge agter tralies behoort voelbaar tot groter geestelike welvaart te lei. Want negatiwiteit trek nóg meer negatiwiteit aan. Verkondig misdaad en jy kry méér misdaad in plaas van minder. Foutvindery is ’n karaktereienskap wat ’n alreeds kritiese ingesteldheid verder afdraand stoot, sonder remme of veiligheidsgordels. Mense wat hierin verval maak alles ingewikkeld met hulle herhaling van kritiek uit veelvuldige invalshoeke—geestelike rommelstrooiers wat onrus in gedagtes saai en onvergenoegdheid in gevoelens oes. ’n Vreugdelose bestaan ontneem van waardering en dankbaarheid, dus minimum geestelike beskutting.

Minsaamheid is ’n sagte begrip wat die hardste werklikheid kraak en oopbreek presies op sy naat. Dit val sonder splinters oop voor jou. ’n Werklikheid wat heel bly selfs al breek dit. Heerlik ongekompliseerd! ’n Vryheid waar harte wat hier arriveer, omvangryk assosieer binne ’n mikroklimaat waar liefde dupliseer oral waar daar ’n weerkaatsing van hierdie sagte gevoelens wortel skiet. ’n Werklikheid wat waar is in die hemel en in Wellington waar gemaak moet word totdat die groot prent die klein prentjie insluk. If you must give expression to prejudges and hatred and intolerance, do not speak it, but write it in the sands, near the water's edge. —Napoleon Hill Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.