Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Augustus 2012

Heil die Leser

Stilte het ’n stem. ’n Woordeskat en gesprek om te voer. Veral die stilte ná skemer net voor die donker sy blou kalmte om jou sintuie vou om die krakies wat deur die raserige dag veroorsaak is, toe te maak. ’n Stilte wat jou sag en weerloos laat ten aanskoue van die omvattendheid waarmee die natuur haarself terugtrek tot binne-in haar eie kern. ’n Oomblik wat sy gebruik om haar hart te fynkam vir liefdeloosheid wat dalk iewers losgewikkel het.
Of die soet stilte van die weemoedige nánag wanneer sy druisend haar klaaglied teen jou ore aanhef terwyl haar gees kalm teen jou aanleun. Weggesteek in oomblikke so bedaard soos die dood betree sy dan die slapende wêreld om die erns van haar waarheid bekend te maak—’n boodskap van heilsaamheid wat die donker seën. Seën omdat hy alles vernuwe onder die aanslag van sy genadige bedekking vir moeë lywe en oorbelaaide sintuie. Ten aanskoue van ’n stilswye wat strelend troetel waar argument skurf geskuur het. Die geluidloosheid van haar tongval hoorbaar vir almal wat haar teenwoordigheid kan verdra. Haar openbarings net vir die wat gemaklik en tuis voel binne die omvang van haar uitgestrektheid van gedagte. Haar swaar-soet wyshede verteerbaar happie vir happie. Só omhels haar influisteringe jou eie gesprek en tree sy toe as bemiddelaar tussen jou en jouself met raad wat bymekaar gemaak is op reise vanaf die agterkant van die aarbol en oor baie seisoene saamgedra is. Die afdruk van haar gewaarwordinge op jou gees vul in en vul op oral waar leemtes in tekorte die balans in jou emosies versteur. Stilte is ’n instrument. God se instrument wat narkose toedien om ons voor te berei vir sy operasietafel. Dit steriliseer ons eie geraas en besigwees wat so graag opinies vorm en oordeel vel. Dit druk ego se mond toe en probeer ons oorreed om ontslae te raak van hierdie boelie wat alles kompliseer en God heeltyd uit ons bestaan probeer druk.
Stilte is vir baie die enigste krieseltjies eenvoud in hulle dag en gevoelens. Stilte wat uit desperaatheid ons raadop in die diepste nag wakkerfluister, nie om op te staan nie, maar om te luister. Want sy wéét: The gentle outlasts the strong. The obscure outlasts the obvious. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.