Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Julie 2012

Heil die Leser

Vervlietende dae stapel op in weke wat maande word en besig is om afdraand weg te hardloop in ’n jaar wat sy eie resies wil wen. Maar voordat tyd ons deur die wenstreep druk, moet ons besin. Besin oor ons doel vir hier en nou, en vir die res van 2012. Hóé en wáár weer ons af, en hóé bly ons op koers. Want die aanslag van elke nuwe generasie op sy erfgoed en sy kultuur—hetsy geboue, parke, strate of waardes—staan nie geskryf op papier nie, maar in die versorging of verwaarlosing daarvan. Met ander woorde, hoe veilig of onveilig is die fondasies waarop dit alles rus.

As die onsigbare meer werklik is as die onsigbare, dan is die waarde wat ons heg aan die dinge om ons belangriker as die dinge self en het die skep van die ding meer betekenis as die ding self. En dan kristalliseer ’n individu of gemeenskap se lewensbeskouing meer sigbaar in sy manier van doen as in sy doen. Plant en saai ons om leë spasies toe te maak, of plant en saai ons om ’n engeleskaar te laat juig omdat daar ’n akker of sypaadjie tot bekering gekom het? Ons word nie verniet gemeet aan die maat waarmee ons meet nie. Die gesindheid waarmee ons ander voed en klee of aan ’n tuin nuwe waardigheid gee, sal ’n oes in dieselfde maat aan ons terugbesorg—oorvloedig of suinig afgemeet.

God se wil vir ons as gemeenskap begin by Genisis 1 se skeppingsopdrag—om te heers en op te pas. Jesaja herhaal dit wanneer wanneer hy ons oproep om die ou puinhope te herbou en die fondament van die vorige geslagte op te rig sodat ons genoem kan word: Herbouers van gebreekte mure, herstellers van paaie, om bewoonbaar te maak (Jes 58:12).

Die wet van entropie wat bepaal dat alles uiteindelik afwentel en dat gelydelike agteruitgang die lot van alle materie is, is die konstante uitdaging wat elke nuwe generasie erf en ook mee getroef word. Daarom moet elke nuwe geslag hulle tyd, geld en energie eweredig versprei sodat daar nie net nuwe goed opgerig word nie, maat erfgoed opgepas en versorg word. Dis die sekerste opdrag binne die wil van die Vader. ’n Vaste feit wat waar is in die hemel en sukkel-swoeg om waar gemaak te word op aarde. Dis méér as ’n skeppingsopdrag, dis ’n koningkryksopdrag. ’n Munisipale opdrag. ’n Hemelse mandaat. ’n Universele taak. Die ultimate roeping—vestig mooi. Vestig waardevolle mooi en pas dit op. ’n Dorp wat nie ewigdurend waak oor die integriteit van sy geestelike kapitaal nie, sal roekelose besluite neem en verkeerde opsigters aanstel; totdat die smaak in ons oë mettertyd afgestomp raak en ons ons verwysingsraamwerk vir mooi verloor.

Tyd wis ons voetstappe uit. Maar tyd kan nie mooi uitwis nie. Rêrige mooi begin in die binnekamer. Dis iets wat met jou gebeur—wat waarde gee aan alles wat jy doen en sê. Mooi is iets waarmee ons sintuie gelaaf en gevoed word. ’n Boodskap van jou oë wat na alle kante toe beur om die geluk oorstelp in lekker plekkies te deponeer.

Mooi wat deur jou oë geloop het, vergeet jy nooit. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.