Mei 2012
Heil die Leser
Die wet van swaartekrag dupliseer homself omvangryk in elke sfeer van die lewe—geestelik en fisies—in die vorm van beperkinge, in natuurlike grense en mensgemaakte grense. Die winter span ’n grens rondom die somer en beperk die uitbundigheid van die seisoen tot ’n pasgemaakte ruimte wat blymoedig inglip tussen herfs en lente. Alles het grense en aan alles kom ’n einde. Lewe verloor sy aantrekkingskrag en dominansie in die gesig van die dood. Wie speel om aan te hou speel en nie af en toe die lang wyser dop hou nie, is onsensitief en kortsigtig—sonder denke. Ons asems is gewigloos, so deursigtig broos; ons waarde so buite konteks vervorm deur die samelewing en die sosiale media wat ons gewildste meningsvormers geword het. Ons vergeet dat die buitelyne van ons bestaan net inhoud kry deur die inwerking van ons gees se suurdeeg wat die omstandighede om ons en in ons laat rys of platval deur ons eie menslikheid of gebrek daaraan. So skommel ons lewens en dae vol inspirasie in los gedagtes, onvasgemaak deur ons filters op soek na betekenis om vlietende dae sinvol te anker. Veral binne die konteks van medereisigers ook op pad na ’n herkenbare, verteerbare en absorbeerbare lotsbestemming waar die doel van ons verhoudings en verantwoordelikhede saam ontdek en saam ontgin word. Al die verskillende moontlikhede is opgesluit in die sinergie wat oorvleuel waar ons saam werk of saam ontspan of aanbid. ’n Sinvolle sinergie wat, soos wat almal in lyn kom met die bloudruk vir hulle persoonlike bestemmings vir nou en vir hier op Wellington, ontvou in ’n delikate tapisserie waar die fynste detail fondasie gooi vir oorhoofse nuanses. As die asemhaling van ons dorp vlak en onrustig is, dan is dit omdat ons deur ons gesindhede sélf die suurstof uit sy longe forseer. Namate die vloei van ons persoonlike en onderlinge gedagtes en uitsprake gunstig en menslik raak, sal dit oral waar ons lewens (sonder persoonlike agendas) oorvleuel, manifesteer in uitnemendheid, ‘n uitnemendheid wat heeltyd herhaal soos wat al die aspekte van ons gemeenskapslewe in hierdie vloei beland. Maar dan sal ons eers van die klein jakkalsies ontslae moet raak. Of hulle mak maak totdat hulle uit ’n piering of ons hand eet. Ons moet onderskei wanneer om strateeg en wanneer om soldaat te wees. Maar ons moet almal altyd dankbaar wees. Dis ’n bevel. In Paulus se tyd en veral vir nou. Groete Amanda Kreitzer