Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

April 2012

Heil die Leser

Die bevangenheid van ons menig mensgemaakte sekuriteit opgesluit in ’n warm bed elke aand, kos uit die winkels, krag in ons mure, water uit ons krane, maar veral die oënskynlike onafhanklikheid opgesluit in ons bos sleutels, het ons makgemaak en verblind vir die delikate feilbaarheid van alles wat gerief waarborg. Alles is so maklik. Ons koop, ons praat, ons weet. Ons kom en ons gaan. Ons het antwoorde, ons het oplossings—gerieflik maklik sonder opoffering. Maar wat is ons beskaafdheid anders a ’n dun lagie tegnologie, parfuum en spoed oor barbarisme? Want uiterlike vooruitgang kan nie ten koste van innerlike beskaafdheid plaasvind nie. So ’n skeefgetrekte samelewing sal uiteindelik soos ’n kanker terugval op sy eie weefsel om dit te verteer om die ewewig te herstel. Die kalm waardigheid waarmee ’n boom, ’n berg of ’n lelie hulleself regop anker teen storms, tyd en verweer, laat lyk ons mensgemaakte pogings om te beïndruk, afgewater en vlak. Waar ons uitgekap het om te bou of aan te plant, lyk dit byna nooit meer sinvol mooi nie. Tralies, lemmetjiesdraad, vibacrete—’n omvattende sterilisasie van vrugbaarheid op die aarde se mees sensitiewe plek—sy grond. Dieselfde grond waarmee die eerste mens gevorm is. Grond wat méér as die baarmoeder van die eerste mens was. Vol moontlikhede handhaaf dit ’n goddelike orde waaruit voedsel, skuiling, edelgesteentes, boumateriaal en energie gehaal word. In haas elke inspirasie wat ons beetpak om gerief en vooruitgang te dien, doen ons dit sonder sensitiwiteit of verantwoordelikheid. Daarom dat onkruid, diefwering en besoedeling die vingerafdruk van die rustelose moderne samelewing geword het. Halfhartige pogings sonder effektiwiteit straf die sintuie oral waar jy gaan. Roerende skoonheid tref jy nog net in die natuur aan—makgemaak of ongerep. Oral waar die Here self die kunstenaar, argitek of tuinier was. Daar harmoniseer alles in volmaakte aanvoeling wat, vol suurstof, jou hart én jou oë laat asemhaal. Asof net Hy nog lief is vir sy wêreld. Net Hy dit nog oppas. ’n Opdrag wat aan ons gegee is. ’n Opdrag wat ons versaak het. Te slim, te voorspoedig, te haastig smag ons nie meer na wysheid wat in gesonde oorleg anker nie. Vreesloos vreesagtig bou ons net hoër heinings en kry beter versekering. Soos Agab vertrou ons ons siele aan die Here toe, maar ons diere, landerye, boorde en ons welvaart, dít word aan Baäl toevertrou. Dit is in ons konfrontasie met konstante magte soos die lewe en die dood dat ons ons eie afhanklike ingeperktheid voel—naby ons goed en teenaan ons lyf. Gaan ons na wysheid vra? Wysheid wat die intriges van die wetenskap en estetiese sinvol versoen met die opdrag om te bewerk en te bewaak. Ons bewerk lankal reeds sonder gewete. Nou doen ons dit sonder hart ook. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.