November 2010
Heil die Leser
Soms gebeur dit dat jy ’n dialek raak van jouself. Met verloop van tyd praat jou hart en wese later nie meer die grammatika en uitspraak van jou oorspronklike samestelling suiwer en opreg nie. Die uitspraak daarvan wat, nes jou vingerafdruk, jou eie aangeleerde klank is, raak so aangepas dat dit vreemd val op die ore van jou hart.
Dit gebeur baie maklik en heeltemal ongemerk so tussendeur trou, kinders groot kry, en werk. Want ons mond het ’n taal, maar ons hart het ook ’n taal. En tensy ander jou hart se taal verstaan, is daar troostelose verwarring elke keer wanneer ’n taalkonflik harte ontspoor. Ter wille van oorlewing vervang jy jouself met die dialek van die omgewing of die klimaat.
Dis ’n openbaring die dag as jy agterkom hóé van koers af hierdie dialek jou gevat het. Die gemis van sekere aspekte in jou eie persoonlikheid begin val jou op—ongeag wat die katalisator hiertoe was. Is jy waaghalsig genoeg, spoor hierdie herontdekking van jouself jou aan om, soos die lae van ’n ui, eers van die buitenste dopperige blare ontslae te raak, totdat jy uitkom by die sensitiewe waarste kern van wie jy is. Jy raak ontslae van alles wat die klank van iemand anders se tongval op jou eie persoonlikheid is. Tyd se uurglas hardloop soos water deur jou herinneringe terwyl jy die spoor van hierdie dialek sny. Jy raak ’n spikkeltjie en vreemde deelnemer op die verhoog van jou verhaal. Jou eie taal begrawe onder blaaie en hoofstukke wat jy nie self geskryf het, en soms ook nie die lengte van bepaal het nie. Die dialek waarin jy besig was om te verander, lê soos ’n komplot vervleg deur die draad van jou storielyn. Soos by ’n begrafnis moet jy besluit waarvan jy alles bereid is om afskeid te neem. Jou boek kan eerder dunner wees solank die somtotaal van die ware jy net behoue bly.
Hierdie editing van jouself is ’n proses. Totdat jy al die vals klanke optel, bly jou boek toe en nog nie reg om te publiseer nie. ’n Sinvolle uitdaging vir enige een vasgevang binne die glanssisteem waar die meeste mense se opinie ’n herhaling is van dié van die massas—voorberei met die dialek van almal wat uit ’n fabriek kom.
Hoe meer jy dit regkry om tuis te kom binne die somtotaal van jou volledige verwysingsraamwerk, hoe meer behoort jy aan jouself. Daarvoor sorg die raffinadery van ons emosies wanneer hulle die neerslag van verkeerde besluite verwerk tot suiwer bestemming. ’n Organiese tuiskom waar ons geestelike DNA (ons siel) die kern van sy eie wese herken in die waarste uitdrukking van ons liefhê.
Groete
Amanda Kreitzer