Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Mei 2010

Heil die Leser

As ons liefde kon bemark, hoe sou ons dit verpak sodat onversigtiges dit nie breek, koue harte dit nooit oopmaak of materialiste dit nie devalueer tot minder werd as die Zimbabwe-dollar nie? Liefde wat so min vra en soms so moeilik word om mee aan te hou of voor te gee. Liefde se sagte afwerking wat menigmaal keer dat ons dae of emosies uitrafel. Liefde is soos ’n seisoenverandering. Veral ná die somer of winter. Dit haal die byt uit die winter en die steek uit die somer. Liefde is nes ’n tussenin-seisoen wat graag vir altyd die seisoen in ons harte sou wou wees, maar omdat harte hulle eie temperatuur het, is dit nie moontlik nie. Die komplot wat die son met die temperatuur smee om die hele sisteem van somer omver te gooi in ’n coup om die winter aan bewind te bring, is ’n dringende noodsaaklikheid vir die natuur, maar ook vir die menslike psige. Want soms het ons innerlike landskap nodig om koud te kry. Hoe anders verstaan ons ander se winter? Soos wat die son skielik sy impak vir bangmaak verloor en die koue sy asem oor jou hart blaas, talm herinneringe soos dooie blare wat weier om te val van die takke van jou geheue. ’n Heimwee deurtrek met liefde—gister se liefde, vandag se liefde— hou jou gyselaar. Heimwee word jou hart se tussenin-seisoen vol melankolie wat emosies in die arms van die volgende seisoen dryf. Jy talm by enige sinvolheid wat te doen het met mense en tye toe jy gedink het die seisoen was jou hart se bestelling en mense die draer van die goeie nuus. So ’n terugblik ontbloot onkunde, onbeholpenheid, oorgretigheid maar veral drif waarmee ons soms so fanaties omgaan. In retrospeksie ontdek jy oomblikke van misleiding, oordrewe onskuld, goedertrou wat misbruik is en manipulasie waarteen jy nie opgewasse was nie. In retrospeksie leer ken jy soms jouself die beste. Wie jyself wéét jy is en nie die persoon wat ander se menings oor jare besluit het jy is nie. Tydens so ’n tussenin-seisoen-oomblik maak jy weer kinders groot, begrawe jy oumas of oupas, stap jy voetpaadjies op ’n maanligaand, leer jy weer dans, en laat die herinneringe aan kerkhoede en handskoene, beach bronz-kouse en crimplene-rokke ’n soet glimlag terugkom na jou lippe. Vir ’n omvattende somtotaal aan die einde van ons lewe en persoonlikheid het ons al die temperature waarmee ons innerlike lewe gekonfronteer word, nodig. Die geheim is om nie die seisoen of ons hart se temperatuur te blameer vir wat ons ervaar nie, maar om te sorg dat ons warm genoeg aangetrek is. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.