Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Desember 2009

Heil die Leser

Wanneer skemer die dag insluk en verteer tot vaal blou-pers word almal wat slagoffers van die stryd om oorlewing is, één met die eenvoud wat spreek uit stil skemers. Ons stille verbintenis met die natuur en ons noue verbintenis met mekaar gee balans aan ons lewens en persoonlikhede in soverre ons dit toelaat om inbreuk op ons besige lewens te maak. Want ons leer by mekaar en ons leer by die natuur.
In ’n eeu waar haas en tegnologie jou egter nie meer toelaat om spontaan te verval in ’n hopelose oorgawe aan intense oomblikke van nostalgie nie, is opwellings van sentiment ’n voorreg. Haastigheid se impak op ons lewens is ’n diep wond. Dit kom lê hard in jou gees en nog harder in jou lyf. Dit laat voel jou kinders se kleintyd na ’n blote gedagte en jou eie kindwees soos ’n sprokie. Al wat soos ’n neerslag in jou gemoed agterbly, is vermengde melankolie oor ’n lewe wat te gou verby is of kinders wat te gou groot geword het. Om iewers in jou onlangse verlede talmende herinneringe te koester van ’n tweespoor-paadjie wat veldlangs myle ver inkronkel, is in ons haastige eeu ’n besielende voorreg. Méér nog as jy jouself op hulle uitgetrapte roete verby kindwees tot volwassenheid in, mak en beskaafd geloop het. Om nie eens te noem dat die emosionele ekstase wat ons uit hierdie voetpad-ervaring geput het nie, ten volle alle verwagtings vir ’n adrenalien-inspuiting bevredig én oortref het! Herinneringe van 'n kers wat saans op die kombuistafel sy flou skynsel gebruik om die rutigheid van die nag vas te vang en te versoen met 'n besige dag wat skielik genadig raak en jou salf met die sagte skaduwees van sy vrolike vlammetjie wat in die wind rondspring, is 'n gevoelvolle herinnering. Dis 'n voorreg cum laude as jy tuisgebakte brood, gebak met een of ander suurdeegplantjie, by sy nederige, dog gretige liggie kon eet. Dit was vóór die koms van margarien en stainless steel-messe en -vurke wat nooit aangeslaan het nie. Almal het botter op brood geëet én laer cholesterol gehad. My gesin was uitermate bevoorreg en het duimedik room onbeskaafd en oordadig op ons brood geplak onder oneweredige lae selfgekookte konfyt. Sonder etiket of ritueel van tafeldoek en servet. Die laaste oorblyfsels van 'n dag wat stadig afdraand geloop het, was die reuk van jou kers se rookwalmpie wat sterker as die donker raak net voordat dit die laaste onthou van jou sintuie geword het. Hoe wonderlik as jy iewers in jou lewe—soms nie so lank terug nie—net voor die son sak, die voorreg gehad het om veld toe te kon loop, óf om hout vir die donkie te gaan haal, óf om skaap bymekaar te maak en aan te jaag kraal toe waar een van ons vooruit moes loop om hulle in te wag en te tel. Wie onthou nog die sjarme van 'n takkraal—daardie eenvoudige, dog meesterlike prestasie in meganika waar knoppies in elk geval nooit sou gewerk het nie.
Wat 'n interessante voorreg om te weet presies hóé sag en dik die weelde van 'n mistapyt wat met tyd opgestapel het, kaal voete se harde kant streel as jy daarin wegtrap. Hoe vergeet jy skattige pasgebore lammertjies wat op wankelrige beentjies stamp-stamp en voel-voel soek na die speen van 'n ooi wat trots-tevrede snuif aan die besige stertjie onder haar neus om die intiemste instink van moederskap meesterlik te bevredig? Met die slagtery, nadat my pa klaar die hamel of ooi uitgesoek het, moes ons kinders altyd help. Al die jare van kleins af het hy behendig en sonder seremonie hierdie ongenadige gebaar so natuurlik gedoen dat dit nooit ontroerend was nie, maar deel van die prosesse op enige plaas waar lewe en dood mekaar afwissel as die mees vanselfsprekende ding. Vleis so geurig soos die bossies en veld waarop dit gewei het. Almal toe nog salig onbewus van voerkraal-getto’s vol formules waarin toekomstige generasies sou vet word om vir gulsige grypers 'n slagding vinnig markgereed te kry. Diere ontneem van die voorregte om op instink die veld en hulleself te vind totdat hulle eie kringetjie toe is en hulle gereed is om hulle lewens op die altaar te lê. Dan was daar yskoue dikmelk met suiker ná ete, voordat sap die stapeldrank geword het.
Tóé was daar inhoud in kos, inhoud in verhoudings, inhoud in die nuus, inhoud in leerplanne, inhoud in die kerk en inhoud in jou eie gedagtes. My eie inhoud het ek stuk-vir-stuk uit hierdie ervarings bymekaar gemaak totdat ek halfpad vol was en dit tyd was om te gaan. Niks wat my daarna volgemaak het, kom naby die ongekunsteldheid van my lewe op Wilhelmshöhe saam my pa, ma, boetie en sussie nie. Om die waarheid te sê, alles sedertdien was net óf te veel gepreserveer óf te veel kunsmatig lekkerder gemaak. Saam met baie sweet. Of te veel adrenalien. Alles is ook soeter en makliker, maar nie noodwendig lekkerder en beter nie. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.