Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

November 2009

Heil die Leser

Die funksie van ons harte strek veel verder as bloed pomp en suurstof bymekaar maak om triljoene selletjies se honger te stil. Ons harte is ons lewe—die boorgat vir liefde. Dis waar gedagtes toegerus word met deernis voordat dit ons oë en hande bereik. Dis ook waar verwronge motiewe geduikklop word voordat hulle in dade verander. Harte voer hulle eie gesprek deur middel van oogkontak. Liefde rus 'n stom hart toe met klank—die alfabet van liefhê wat soms praat in troos, soms in vreugde, maar die suiwerste in liefde. Die ekstase van liefde se geweld wat soms jou hart of gedagtes oorrompel is nie net onmeetbaar lekker nie, maar vir solank dit hou, die beste ding wat met enige mens kan gebeur. ’n Hart wat ingespan word voor 'n tong, trek 'n ligter las as 'n hart wat agterna die stukke van 'n haastige tong moet optel. 'n Ego wat voor 'n hart ingespan word, is 'n hart wat resies hardloop. Gefokus op die wenstreep is daar nie tyd of geduld om te help, om te gee, of te vertoef nie. Dis skaars 'n hart. Ons harte maak ons genaakbaar. Sonder inspanning gemaklik in liefde gee en liefde ontvang. Veral vir impulse direk uit God se hart wat ons toeganklik maak vir almal in ons dorp en omgewing vir hierdie seisoen en hierdie jaar waarin ons bymekaar gebring is om 'n sekere bestemming te verwesenlik—in ons en buite ons. In ons harte kry ons ons waarste betekenis as mens en in ons kontak met ons medemens. Hier raak die oorskiet van die mensdom deur genade weer waardig en geskik vir gebruik en geluk. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.