Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Oktober 2009

Heil die Leser

Sekerlik nie die grootste nie, maar wel die belangrikste fout wat ons maak, is om té maklik visums toe te staan vir ander om deur ons tyd, ons dag, ons harte en soms deur ons lewens te reis. Totdat jy eendag wakkerskrik om, asof vir die eerste keer, oë te hê en 'n stem—innerlike sig en 'n emosionele stem.
Die grense van jou “nee” skuif dan geriefliker verder totdat jy emosioneel veilig voel. Die nuwe uiting van jou eiewaarde en jou geestelike tong is nou meer gerig op eie behoud as op die guns van ander. Die behoud van jou eie integriteit. Want integriteit is betekenisloos, sonder vorm. Dit het te doen met die afskaal van besluite neem rondom ander se gevoelens wat uit ordentlikhied altyd gespaar word ten koste van jouself. Totdat jou eie inhoud, afgewater en betekenisloos, nie meer diep bevredig nie. En jy besef dat dit nie nodig is om toe te laat dat onsensitiewe opinies en oppervlakkige uitsprake jou boelie tot die té ordentlike wese wat jy geword het nie. 'n Mens moet van tyd tot tyd bepeins oor jou besluite: waar dit jou gestuur het, wat dit van jou gemaak het en wie dit oor jou pad en veral jou binnekring gestuur het. Want dis veral dié in ons binnekring wat die meeste inspraak in ons pesoonlikhede het en wat ons mettertyd na hulle beeld vervorm. Hoewel die meeste van ons nog nooit eers naby tronkdeure gekom het nie, is die emosionele boeie van ander se verwagtinge, of die teenwoordigheid van verkeerde mense in ons lewe, 'n langer termyn om uit te dien as vir platvloersesteel. 'n Persoonlikheid wat gevange was binne die intimidasie of manipulasie van 'n beste vriend, huweliksmaat, kollega óf deur die buie van 'n ouer of kind, dien 'n langer termyn uit as die meeste misdadigers. Totdat genade soos 'n uitspraak sleutels vir ons emosies gooi en ons dit op 'n dag raakvang en onsself oopsluit om die vryheid van ons eie self binne ons eie persoonlikheid te ontdek. Dan ruik jy al van ver af almal wat openlike of verskuilde boeie het en raak jy rats genoeg om net altyd buite grypafstand te bly. 'n Nuwe jy binne 'n nuwe bestemming.
Jy begin reis heerlik rond binne jou eie persoonlikheid sonder paspoort of vrees maar op oer-instink wat jou toelaat om te geniet en te fouteer en te wees wie jy is sonder enige verwagtinge van ouers, onderwysers, familie, kerk of die gemeenskap. Oorgemaak volgens God se oorspronklike resep (wat binnekringers langs die pad verloor het) word jy skaamteloos wie jy veronderstel is om te wees. Gemaklik jouself op eie bestelling en eie bestanddele. Elke dag breek à la carte oop voor jou, gereed om op te dien net wat jou gemoed bestel en wat jou hart kans sien om te verteer. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.