Julie 2009
Heil die Leser
Soms steek verlange op soos onweer. Soms sak dit uit soos stortreën. Soms dreun dit nes swaarweer en, net soms, klief dit deur jou wese erger as vallende blitse. Maar dis wanneer verlang geleidelik toetrek om ná 'n vinnige asem ophou, vrolik en vallend [stortend?] uit te sak, dat dit terapie word. Terapeutiese verlang bring jou weer in kontak met jouself. Wie jy is én wie jy was. Wie jy liefhet en wát jy liefhet. Soos wat verlang se vloedwatermerk opstoot, versuip emosies wat nie kan swem nie, en oorleef net dit wat van waarde is. Verlang wat al oud en haasbek geraak het, het nie meer genoeg tande om seer te maak nie—tyd se manier om afstand tussen ons en pyn te bring. Verlang is almal se soulmate. Want ons het almal soms heimwee na grepe uit ons kindwees, of ons jonkwees, of ons lafwees of ons saamwees. Ons koester almal heimwee na iemand. Of 'n plek of 'n oomblik of oomblikke. Tyd verloor sig, en wanneer herinneringe vaag en sag omlyn raak, fokus ons outomaties eerder op die hele prent as op sekere aspekte daarvan. Raak alles vloeiend en harmoniseer voor- en agtergrond en klein en groot en belangrik en onbelangrik makliker tot 'n sinvolle geheel. Dis ons harte se manier om vrede te maak en afskeid te neem en afstand te doen. Dis 'n manier van heelword en om die hoofstukke van jou lewe te bundel in een boek—jou eie verhaal. Soms is 'n hoofstuk 'n week lank, soms 'n dag of soms strek dit oor jare. Soos aan die einde van enige storie, laat party jou lag of inspireer jou, en laat ander jou huil. Soms dink mense hulle boek is toe, terwyl almal dit lees. Soms is 'n oop boek toe omdat dit onleesbaar is. Hoe beter jy jou eie verhaal verstaan, hoe beter is jy in staat om 'n ander se storie te interpreteer. Om 'n boek nie te takseer op grond van net een hoofstuk nie, maar op grond van die slot. Een hoofstuk maak nie 'n hele boek nie. En as nou se hoofstuk 'n hartseer einde het, is dit nie te sê dat die volgende een ook so gaan eindig nie. Tyd maak ruimte. Ruimte vir oorbegin en anderster begin. Vir 'n nuwe hoofstuk. 'n Volwaardige mens het bymekaar gekom in die somtotaal van al die insidente van sy lewe—waar goed en sleg sorg vir kontraste. Ons harte het die ongeëwenaarde vermoë om, soos 'n naald met gare, al die los insidente van ons lewe in te ryg sodat niks wegwaai nie. As jou eie boek dun en sy einde voorspelbaar is, laat jou hart toe om iemand anders se uitmekaarval-hoofstukke te help bind sodat die storie nie verlore gaan en daarmee saam die skrywer nie. Liefde op die wysie van verlang is 'n hardebandomslag vir enige boek waarvan die los blaaie dreig om uitmekaar te val. Verlang is die naald en liefde die gare. Die omslag, mense wat omgee. Groete Amanda Kreitzer