Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Junie 2009

Heil die Leser

Hoe sagter die reën val, hoe dieper dring dit in. Dade wat sag val, tref diep. Harde dade maak bulte wat opstoot en verkleur—vol pyn en gif wat tyd weer saggies in stilte moet genees. Die abnormaliteit van bulte en knoppe in ons emosies waar pyn langer vat om te dreineer as op 'n ledemaat, maak van ons almal pasiënte wat 'n geestelike dokter nodig het. Om jou hart te koester, is om geestelike uitgawes laag te hou. Om dit te doen, moet jy verhoed dat te veel mense, veral verkeerde mense, oor jou hart loop. Bring hulle maar moedswillig op 'n dwaalspoor óm jou hart en nie daardeur nie. Soms het gedagtes ook voete in plaas van vlerke en trap hulle ook spore in jou hart wat die grond kompakteer [vastrap?]. Die kanse op 'n goeie oes raak skraler na mate ons ons harte oopstel vir almal. Ons harte is heilige grond, want daaruit is die oorspronge van die lewe—óns lewe. Daar gebeur liefde, vergifnis, vreugde, wraak, onverskilligheid én onvergenoegdheid, met ander woorde, lewe in oorvloed word daar versmoor en alles wat op die dood uitloop, word daar opgewek. 'n Misoes in ons hart beteken geen vrugte om te pluk in ons persoonlikheid nie. Dit beteken vreugdes word gedeel en pyn vermenigvuldig. Dis algebra wat nie logies klink nie, alhoewel die antwoord reg is. Wiskunde is nie net die taal van die uitspansel nie. Wiskunde is die vraestel wat ons ingesteldheid en motiewe elke dag skryf om net voor ons aan die slaap raak, gemerk te word. Omdat sagte woorde en sensitiewe uitdrukkings 'n groter antwoord het, hoef jy nie slim te wees om volpunte te kry nie.
Net deurtrek met deernis. Vol genade vir ander en vol begrip vir situasies. Om menslik te wees soos 'n dier wat sy prooi verskeur nét wanneer dit kos is. Roofdiere is reg, kannibale verkeerd.
Hoe ontsnap jy 'n omgewing wat gedreineer is in 'n liefde vir self, plesier, gerief en geld? Jy trek die prop uit jou eie hart sodat alles wat besmet is met selfgesentreerdheid, uitloop. Met jou eie groter beweeglikheid kan jy begin om 'n verskil te maak. Groet in plaas van nie groet. Glimlag in plaas van uitdrukkingloos jou pose hou. Maak oogkontak in plaas van verby kyk. Stel belang in plaas van jouself haastig verskoon. Identifiseer in plaas van simpatiseer. Staan by met daad in plaas van raad. Vat, raak aan, en kyk om raak te sien. Gee mense en situasies jou gebede in plaas van jou opinie. Reik uit met jou hart en jou tyd in plaas van jou beursie of mooi woorde. Ons ís mekaar se oppassers en mekaar se dokters. Hierdie is nie sielkunde nie, dis wiskunde. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.