Maart 2009
Heil die Leser
Wanneer verlange jou binne die gietende uitstort van sy eie wolkbreuk anker, kerm jou hart homself by jou oë uit. Dan vat herinneringe jou ver, baie ver terug na gelukkige tye van samesyn, na wat kon wees, na wie jy was én, hóé dit was. Soos ’n boek wat toe is, beginte blaai jou hart een vir een die blaaie van jou lewe terug. Soms maak jou hart jou boek in die middel oop. Soms blaai hy vorentoe, soms terug. Dán huil jy oor goeie tye én slegte tye. En voel die slegte tye nie naastenby so uitputtend soos jy gedink het dit was nie. Jy kyk met dieselfde oë nuut na alles. Jou pa en ma raak nuwe mense. Ander mense. Oor jy skielik self is waar hulle vir so lank was, of stil gestaan het. Jy loop terug op die spoor van veral al jou eerstes soos wat onthou hulle verby jou geestesoog laat paradeer. Wie vergeet ooit sy eerste soen? Of die eerste keer wat jy jou hare geknip het (tensy dit kort was vandat jy kan onthou), of die eerste keer toe jy leer dans het? Of jou eerste baba—’n vreemde jy vasgemaak aan ’n vreemde wese. Die eerste persoon na wie jy onwillekeurig baie gaan verlang. Min wetend dat die naelstring met die lewe vervang word met ’n naelstring na die hart—later baie harte. Soos wat ons aanleer om gesofistikeerd te wees, leer ons om af om naïef te wees. En die vergrype aan enige oomblik uit ons verlede bring ons weer in aanraking met eenvoud en onskuld wat op simpatieke wyse alles van die verlede in sentiment toevou voordat dit weggebêre word. Ons hunker heimlik terug na die tyd toe ons diepste self die wêreld ongekompliseerd betrag en beoordeel het. Toe ons gemoed onbeskermd en sonder voorgee, kinderlik oop en vatbaar vir indrukke en inhoud was. Voordat tyd die skaaf geword het wat letsels en wonde hulle gladde emosionele afwerking gee. Maar voordat die hede met sy skerp sin vir werklikheid die gordyn van onthou weer stadig en saggies kom toetrek, is dit hierdie korte verposing en intieme kontak met naïewiteit wat ons siele verkwik en ons hart se massa teer en sag maak—tydelik gemarineer in die melankolie van herinneringe en onskuld wat ons weer lief vir alles en almal maak. Groete Amanda Kreitzer