Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

November 2006

Heil die Leser

Die laaste oorblyfsels van 2006 is besig om nog net so hier en daar grond te vat op die dagbeplanners van ons gefragmenteerde lewens waar stukkies van ons oorlaaide menswees kruis en dwars rondvlieg om op die punte bymekaar te probeer uitkom om die blokkiesraaisel van ons bestaan iewers leesbaar te maak.

Geheel en al weerloos staan die mens voor die kake van die tyd wie se slagoffer almal weens geboorte is. En die enigste manier om sy fynkou vry te spring is om dit ondergeskik en diensbaar te maak — jý die baas en tyd joú dienaar. Dit kry jy reg deur te geniet wat jy doen, te hou van wie jy is en te weet die koers wat jy ingeslaan het vat jou na die regte bestemming.

’n Dag sonder ’n nuwe lewensbesef is ’n dag verloor. Dis hoekom geestelike beleggings rente trek bo-oor en dwars in teen inflasie en vir dit tong uitsteek. Want die groeikoers daar waar mot en roes nie bykom nie word bepaal deur die opregtheid van ons motiewe. God het ’n blymoedige gewer lief en ’n blymoedige saaier se risiko is laag en winste hoog. Die geheim van ’n vervulde lewe waar jy nie net oud word nie, maar ryp en beleë is deur die regte beleggings. Belê in mense. In mekaar. In verhoudings. In die wat moeg en hulpeloos en weerloos en arm van goedere en arm van gees is. Daar is dalk baie wat arm van goed is maar meer wat arm van gees is. Mense se harte sit vlak en hulle gee is sonder offers. Gevoelens is vlak en wisselvallig want hulle liefde is flou. Dis nie meer ’n brandende, verterende vuur wat aansteek nie. Dis nie meer warm genoeg om aan te steek nie. Dis in die hitte van die oomblik dat die atoom gesplit word. Dat lewe geskep word.

Helaas, die vlam wat die hitte stook is geblus en vervang met ’n battery wat op sy beste die gloed van “lust” na hartsog laat lyk alhoewel dit ontneem is van passie en inhoud. Mense bly nie getroud. Vriende is nie opreg. Kinders raak onbeskof en Christene is nie wat hulle sê wie hulle is.

Wat bly oor? Pap battery.

Mense is te moeg om die vlam te gaan soek. Te uitgebrand. Te koud. Hulle asems te kommersieël.

Ons het twee bestemmings. Een aan die einde van elke dag en een op die dag van ons vervaldatum. ’n Van ganser harte mens se dag en se uiteinde eindig waar dit begin het — by die vlam van God se liefde wat nou aansteek maar eendag verteer sonder om te veras.

Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.