Oktober 2006
Heil die Leser
Die blou gewelf wat sierlik en wyd die oneindigheid by sy verste uithoeke gaan haal en elke heuglike lentedag sy canopy hemelblou oor Wamakersvallei kom span, is ’n bekoorlikheid wat altyd bevredig. Veral die oog en die gemoed.
Met die laaste oorblyfsels van die winter wat besig is om opgevreet te word deur muggies en muskiete is die lente besig om met verstommende aanvoeling ’n feestafel te dek wat elke dag se spyskaart laat kreun onder kleure en geure wat sintuie tot raserny dryf.
Oorhang Visterias gemarineer in ’n spesiale resep drapeer hulleself oor groot gedeeltes van die spyskaart in kompetisie met May flowers en Petria wat in welige massas hulle siele ophef of uitstort in gloede van wit en pers.
Lusmakers vir hierdie seisoen van omhelsing en innigheid en oordadigheid is pikante jasmyn opgedien in groot bondels wat hulleself sonder inhou of selfbeheersing oral waar hulle geplant is, ontboesem. ’n Geur wat in alle ewigheid nooit deur enige vorm van evolusie sy beslag kon kry, maar eerder die wen-resep is van die meester van geure, wat hierdie warboel van gemengde emosie laat uitloop het op ’n soet besluit van sagte delikate minlikheid wat jou òf waarsku òf agtervolg.
Omdat nuwe lewe wat in liefde gesaai die antwoord op geloof se gebed is, mag ons nooit ophou hoop nie. Want God se werkinge is altyd in die nabyheid van hierdie driemanskap.
Groete Amanda Kreitzer