Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Desember 2005

Heil die Leser

Sonskyndae oorlaai met besigwees het die norm geword hierdie laaste stukkie van die jaar. Die somer se warm hande voel-voel met klewerige vingers op soek na slagoffers oor wie se blaaie en in wie se nekke hy sy hittige hartsog kan ontbrand. Om weerstand te bied teen sy fel middag-hofmakery is tydmors. Dis gesonder en geseënder om jou te onderwerp aan die warm omhelsing van die seisoen wanneer dit beklemmend sy warm asem onder jou klere en haarlyn invroetel as om weerstand daarteen te bied.

Om teen sonde weerstand te bied is ’n vereiste, maar om weerstand te bied teen omstandighede of situasies waaraan niks gedoen kan word nie, is ’n verspilling van konstruktiewe energie en kosbare tyd. Die oomblik as jy jóú lot ondergeskik aan die van die nóódlot stel, kan die situasie jou nie meer boelie nie. Oor die dood en oor wat ander mense bereid is om aan ons te doen het ons in elk geval nie beheer nie. Daarom bring onderwerping en aanvaarding daarvan ongekende bevryding en is dit in sigself die eerste tree op die lang pad na restourasie van dit ín ons wat deur die kaalvreter stompgewei is.

Of jy gaan onder as die aanslag fel woed, òf jy leer jou vyand ken en maak ’n plan. Die Bedoeïne wat in die woestyn rondtrek het deur die gewoonte geoefen, geleer hoe om ter wille van oorlewing hulleself aan die verwoestende woestynwinde te onderwerp wanneer dit al hulle krag en uithouvermoë trotseer. Hulle gaan lê eenvoudig so laag as moontlik en gooi hulle doeke oor hulle koppe totdat die wind bedaar. As ons nie deur omstandighede of die wind gebreek wil word nie, moet ons ook leer om ons te onderwerp. As dit nie aan die wind is nie, is dit aan ons meerderes, óf aan die werklikheid óf aan God. Gedelegeerde gesag doem heeldag en heeltyd oral om ons op. Dis in elk geval nie die wind of enige gesagsfiguur wat ons breek nie. Dis die beginsel daaragter. Of ons wat onsself daarteen verpletter. Enige persoon wat in rebellie opstaan teen gesag staan meteens sonder beskerming — Goddelike beskerming.

Maar daar is één gesag waaraan selfs die storms en die winde hulle moet onderwerp. Selfs die dood moes swig voor die oppergesag van die Verlosser — Jeshua — God se seun aan wie almal, al is dit ook nie nou nie, dan wel eendag as Hy terugkom om Sy vredevolle koninkryk vir 1000 jaar hier te kom vestig, hulleself sal moet onderwerp. Nou vrywillig, dan onder dwang.

Mag die vlietende tydelikheid van hierdie jaar en sy bedrywighede wat so vreeslik gou in belangrikheid vervaag ons aangryp en wakkerskud uit ons narkose van beheptheid met onsself en ons eie doen en late wat net ingestel is op geldmaak en tydelike genietinge sodat ons die ewigheid en God wat daar vir ons wag, desperaat aangryp.

Mag Wellington hierdie seisoen hulle harte buig voor die Seun van God wat vir ons gebore is — die enigste waarheidsmaatstaf en padkaart na God en die ewige lewe.

Kersgroete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.