Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Augustus 2005

Heil die Leser

Die volmaakte onversteurbaarheid wat jou omring en van jou besit neem wanneer jy alleen en ver weg van mense in die veld of enige stuk ongerepte natuur is, bly vir my altyd die hoogtepunt van al my belewenisse.

’n Sagte, gemoedelike stilte lê op veldgras en groen koring wat skaars sigbaar, liggies roer onder die vredevolle aanraking van die wind oor hulle slanke ruggies. Die skepping se deurdrenktheid met die Skepper se volmaakte plan waarmee alles in volslae onderdanigheid en tevredenheid saamleef, borrel oor in elke voëlgeluid wat roep en elke instink van alles wat lewe se verlange na die lewe. ’n Stille harmonie swiep hoog uit die hemelruim met arms vol sagte grys-wit wolke tot op die rooi stofpad wat verlangend kleiner en kronkelend wegloop na bestemmings vol versugtings.

Die mens is broos en sy hart nog broser. Want lank voor ouderdom sy liggaam breek, breek tragedie sy hart. En op die akkers van die hart is dit verstandig om organies te boer. Alles wat aangeplak, aangedik of aangejaag is, vaar nie goed hier nie.

As die natuur ’n spieël is van ons lewens, dan is sommige mense soos ’n oop stuk veld waar al jou sintuie en uitgeputte gees weer tot verhaal kom en met die ewigheid wat in ons opgesluit is, kontak maak. Tyd se grense kry vleuels.

Ander se lewens is opgedeel in akkertjies met reëlmatige rye en vore en die hele ritme van waar, wat en wanneer is meetbaar en voorspelbaar. Hier is baie verskuilde vreugdes wat wag om ontdek te word, mits tyd gemaak word om stil te staan of om moedswillig te gaan stap as die reuk van klam grond en mos jou wildskrag vir binnebly oorrompel.

Sommige tuine is tuine maar dis meer ’n tegniese beskrywing as ’n estetiese belewenis. Daar is nét te veel gevorm met die snoeiskêr en elektroniese besproeiing maak alles net te dodelik ernstig en perfek. So ’n tuin sal leef al kry dit ook nie liefde nie — die krag moet net nie afgaan nie.

As jy deur so ’n tuin stap, bly jy dieselfde. Maar gaan stap ’n bietjie deur ’n vrolike, uitbundige tuin. Of die heel beste, gaan stap enige voetpad veld in of berge toe. As ons daaglikse lewenswyse en roetine verstikkend geraak het en ons menswees gebukkend sukkel omdat ons hopeloos te ’n groot hap op alle denkbare gebiede afbyt, gaan soek ’n plek waar jy alleen vir ’n lang tyd net voor jou uittuur na die veld om jou wat aanhou en aanhou vir altyd. Vir een of ander rede val onnodige laste sommer net vanself af en word die ewewig herstel. Die hart van ons probleem is, eintlik, ons hart wat ’n rusplek soek.

Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.