Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Junie 2005

Heil die Leser

Vallende reën se aanhoudende neerplons met sy eie ritme en wysie van harder, sagter, vinniger en teerder of inniger het ’n bekoring wat met min ander geluk bringers vergelyk kan word. ’n Simfonie met sy eie wysie op instrumente soos sinkdakke, afleivore, vensters en oorloop geute. Of dit nou saam met koue of sneeu kom, dit verkwik altyd die harte van almal wat bevoorreg is om te kan hoor hoe dit uit die hemel gestuur, aarde toe plons.

Reën is ’n seëning. Wat val op geseëndes. Dit voed die aarde én sintuie. Dit maak skoon en vernuwe. Soms word vallende reën ’n oordeel wanneer die mens en sy dade te lig bevind word en die natuur daaronder moet ly. Want God wat die harte toets, openbaar deur die reën van genade óf die reën van oordeel waar ons motiewe en sentimente die geseënde pad byster geraak het.

Na 9 jaar is dit ook Val de Charron se beurt om onder die soeklig te kom. Dit wat mees ooglopend was, die naam, was vir 9 jaar verkeerd gewees. ’n Franse toeris wys dit uit. Val du Charron is enkelvoud en dit behoort in die meervoud, Val de Charron geskryf te word. In hierdie geval was dit maklik. Die soeklig moes maar net geskyn het. Nie te gesoek het nie.

Dis genade as God sy byl kom lê by die wortel van elke begrip en sentiment in ons waarvan die vrug op die vernietiging van ons fisiese en geestelike welsyn uitloop. Die bietjie pyn en ongerief wat ons offer is vir geestelike rypheid en emosionele insig, kan nie vergelyk met die lang termyn belegging wat gedoen word daar waar mot en roes verbied is.

Dis oordeel wanneer mense met gesigte voor jou kom staan. Maar dis genade wanneer God mense met harte oor jou pad stuur. Hulle hande dien en hulle arms word vlerke wanneer dit moet. Hulle gebede is ’n welgevalle offer. Genade is gesuiwerde genade die dag as God se soeklig klaar deur jou lewe en pogings gebrand het. Die blote besef hoedat jou onsuiwerhede die hoogste offer ooit vereis het om van jou ’n volkome mens te maak, temper dít in ons wat so smag na erkenning, vergoeding en regstelling.

Val de Charron, self ondergeskik aan ’n Hoër gesag, kon vir 9 jaar oorleef danksy mense, besighede, skole en kultuur organisasies se ruim harte wat onderskei het dat dié koerant genadiglik wil voed omdat dit self ook in genade gebore en uit die broeikas van genade onderhou is. Die pen was elke uitgawe gedoop in liefde. Liefde vir ’n vallei en sy mense met hulle lief en leed wat onlosmaakbaar ingeweef is in die hart en siel van die koerant. Dis ’n innige liefde, maar nie blind nie. ’n Liefde wat met elke uitgawe waak oor die wortels van die dorp om sy waardes en sentimente te dien en nie toe te laat dat dit ondermyn word nie. Dankie vir 9 jaar wat van elke maand ’n demonstrasie van toegeneentheid gemaak het.

Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.